“Ivan Opperman, dit is alles jou skuld,” Praat Janie met Ivan asof hy alles kan hoor. “ As jy nie dood gegaan het nie was ek nie nou hier nie.”

Sedert Ivan se dood twee jaar terug praat Janie met hom want sy voel dan minder alleen.

Ivan was te mooi vir ‘n man. Lank en donkerblond met ’n stoute glimlag. Hoe kon sy hom en sy hemelblou oë weerstaan toe hy haar nommer vra. Sy mis hulle gesprekke en die feit dat hy ure vir haar kon luister. Sy probleem was klein, het sy dit afgemaak. Sy sien daarvoor kans

Sy was desperaat vir liefde, daarom dat sy oop oë in Ivan en sy komplekse lewe ingeloop het.

Dwelms was Ivan se nemesis. Die Godin wat hom kom haal het.

Janie sluk aan die knop in haar keel terwyl sy haar selfoon vies eenkant toe gooi. “Ja Ivan, nou soek ek geselskap in die kuberruimte. Asof dit my minder alleen sal laat voel. Waarom het jy nie maar gebly nie?”

Janie ken eintlik maar die antwoord. Heroïen verslaafdes het ’n piepklein kans vir oorlewing. Ivan kon meer as twee jaar ophou om sy verslawing te voed, maar die dwelm het daagliks na hom  bly roep en nie eers die straatlewe waar hy vir lang rukke oorleef het, kon hom afskrik nie. Janie dink aan die kere wat sy hom gaan soek het. Hy was seker een van Pretoria se bekende druggies. Elke Polisiestasie het hom geken en omdat Ivan ’n oudpolisielid was, het hulle hom jammer gekry.

Later die aand toe die twee dogters in die bed is vat Janie weer haar selfoon en teken  weer aan op die webwef vir enkellopendes. Daar is vyftien koevertjies. Sy sug moedeloos. “Ivan, hoe sif mens tussen so klomp desperate mans vir die regte een? Sarita van sesde vloer het haar man so ontmoet. Dit het dan so maklik gelyk.

Bloubul soek ‘n koei. Nee, hou verby sy is niemand se koei nie.Al waarom rugby haar opgewonde maak is omdat sy so lekker kan wegdompel onder die geruis van ‘n rugbywedstryd. Zander se foto lyk soos ‘n griekse god. Sy vermoed dit is ‘n ‘geleende’ foto want as jy so lyk soek jy nie geselskap op die internet nie. Een na die ander vee Janie die boodskappe uit want nie een trek haar aandag nie. Henk45 se profiel pas driekwart by haar profiel en sy klik op die profiel. Hy dui aan hy is uiters eerlik en woon naby aan haar.

“Hi, wil jy gesels?” val Henk met die deur in die huis. Sy byt haar onderlip raak en huiwer om dadelik te reageer. Wat anders sal sy nou wil doen?” wonder sy meer moedeloos as mislik.

“Hallo, ja ons kan gesels,” reageer sy tog.

“Vertel my van jouself,” kom die volgende sin en met die televisie in die agtergrond begin sy ligtelik oor haarself uitwei.

“Wat het jy aan?” kom die volgende sin in terwyl sy nog besig is om te tik en voor sy die sin kan voltooi verskyn ‘n foto wat haar bewend van skok laat. Sy gooi die foon vies eenkant  terwyl sy met met Ivan praat. “My engel hierdie storie gaan nie werk nie. Hoekom wil die man weet wat ek aanhet en dan ‘n kaalfoto stuur?” Sy gryp die foon en vee haar reaksie uit. Daar is weer ‘n rooi merkie wat ‘n nuwe bewonderaar aandui en sy druk met haar vinger op sy profiel. ‘Ben44 Tussen die duiwel en die diepblou see’.

Janie wonder of die nommers sy ouderdom aandui. Sy foto is gewoon. Hy het grys langs sy slape en in die agtergrond staan ‘n hond so asof die foto per toeval geneem is.Voor sy kan reageer verskyn ‘n koevertjie van Ben: “Hallo J”

Janie tik vinnig “Hallo” voor haar moed haar begewe.

“Ek is Benjamin. Jy is pragtig. Jou oë is hartseer.”

Janie lees die boodskap drie keer voor sy die foon toemaak en haar oë toemaak. Sy is hartseer en gaan nie stry nie. Die laaste tien jaar was nie maklik nie. Sy wonder baie dae of sy ooit geluk gaan vind. Eers was dit Dewald en toe Ivan.

Die bom bars die dag na hul derde huweliksherdenking.

“Janie, ons moet praat.” klink Dewald se stem agter haar op terwyl sy moeg vir Mia sus. Hul tweede baba kom oor ‘n paar weke en is woelig. Klein Mia is ook knieserig. Op amper twee en half speen Janie haar van haar bottel en dit is nie  maklik nie. “Sit die ketel aan, ek is nou by jou.”

Die koffie laat haar ontspan. Met afwagting kyk sy na hom. Hy lyk soos ‘n stout kind wat betrap is. “Ek is gay Janie, ek kan dit nie meer langer wegsteek nie en dit help nie ek draai doekies om nie.” Haar kop suis en waar sy gewoonlik woorde het is ’n leegte.

“Ek weet niks wat ek gaan sê gaan help nie. Ek dreig al so lank om jou te sê.”

Na daardie gesprek was sy net ‘n dop wat weg geloop het. Sy ignoreer fluisterstemme van ek-het-mos-gesê en loop huilend uit die Hooggeregshof na haar skeisaak. Vir vyf jaar bestaan sy net en leef soos ‘n grotvrou. Werk toe en huistoe. Groei haar beenhare en ‘n muur om haar hart. Maak haar dogtertjies groot. Val saans vermoeid en stomp op haar bed om soggens steeds moeg op te staan. Elke tweede naweek laai Dewald hul dogtertjies op. Hy was in daardie tyd ‘n beter mamma as sy. In haar verwerping was sy dankbaar vir hom. Sy was nie altyd ’n goeie ma nie maar genadiglik het sy nie al haar albasters verloor nie.

Toe stap sy by die selgroep in en ontmoet vir Ivan. Die res is geskiedenis.

Onweerstaanbare Ivan. Sy was naïef en het geglo sy is groter as ‘n pakkie wit poeier. Drie jaar later was sy steeds mal oor hom en kon niemand haar oortuig dat sy beter verdien nie. Hy het haar toegelaat om die mens te sien wat hy was as die duiwel in hom, stil was. Sy sou hom nie los soos almal in sy verlede hom gelos het nie, het sy haarself en hom belowe. Eenkeer het drie van Ivan se ma se ringe weggeraak. Sy het haar blind en doof gehou.

Toe die oproep kom dat Ivan dood is was Janie op ‘n spanbou saam die werk. Die buurman en Ivan sou Rugby kyk en toe Ivan nie opdaag nie het Kobus om die muur geloop en Ivan ontdek. Naald in die arm. Sy weet Ivan het dit nie bedoel nie. Twee jaar sonder dwelms het veroorsaak dat Ivan oorgewig geraak het en daardie eerste spuit was te veel.

Haar vyfjaar belegging in liefde in een spuit weg terwyl die familie dink dit was ’n hartaanval. As daar dan een ding is wat sy vir Ivan wou doen, was dit om hom met respek te laat begrawe.

Met hierdie gedagtes raak Janie net daar, voor die televisie aan die slaap.

Die volgende aand teen bedtyd kry Janie eers weer kans om aan die maatsoek webwerf te dink. Sy het nooit vir Ben44 geantwood het nie. Daar is ‘n klomp boodskappe en Janie soek vinnig Ben se naam.‘n groen kolletjie wys Ben is aanlyn. “Hallo Ben, Janie Bruwer hier. Dankie vir die kompliment al is dit skeef J.”

“Haai Janie, goed om van jou te hoor. Ek het gedink jy hardloop weg toe jy nie antwoord nie.”

“Jammer ek het aan die slaap geraak.” Die res van die aand deel sy en Ben inligting en teen die tyd wat haar oë toeval voel hy nie meer soos ’n vreemdeling nie.

“Kom, kom julle,” roep Roberto almal in die dansstudio tot orde. “Neem julle plekke in.” Hy praat hard bo die musiek. “Julle ken die roetine, ons dans dit drie maal deur.” ‘n Uur later is Janie moeg maar tevrede. Sy het die moeilike dansroetine onder die knie en sien kans vir die kompetisie wat voorlê. Na Ivan se dood was dans haar redding en vanaand het sy nie een maal aan Ivan gedink nie. “Dit is ‘n goeie teken” praat sy onderlangs en sien hoe Renier, haar dans maat, na haar kyk. Sy maak of sy dit nie sien nie en gryp haar sak. Renier roep nog maar Janie maak haar uit die voete deur die dogters by die oppassers te kry en vinnig kar toe te loop. Gelukkig is dit ’n verkeersopeenhoping soos almal probeer om by die deur uit te kom en raak Renier agter.. Renier is gaaf maar mens kuier nie saam jou dansmaat nie. Nou is dit bad- en slaaptyd. Miskien is daar selfs tyd om bietjie met Ben te gesels.

“Hallo Benjamin J” tik Janie vinnig voor haar moed haar begewe. Hoe was jou dag?” Sy sien Ben is aanlyn en wag geduldig dat hy antwoord.

“Hallo Janie, lekker om van jou te hoor.” Hoe was JOU dag? Rus jy bietjie?” kom die teenvrae een na die ander in.

Janie kry so warm kolletjie onder haar hart. Hier is iemand wat omgee oor haar. Wat vra hoe dit met haar gaan. Wanneer laas het iemand so oor haar omgegee?

“Dit gaan goed Ben. My dogters slaap en ek het lekker gedans vanaand J. Ek geniet ek dit regtig.” Janie vat langer om te tik want sy het geen erg aan die verkorte klets taal wat selfs haar ma deesdae gebruik nie.

“Ek hou ook baie van dans. Het ek dit genoem?” kom Ben se antwoord.

Die res van die aand tot slaaptyd gesels Janie met Ben en word die kolletjie onder haar hart al groter. In daardie oomblik wat Janie wegdryf op ‘n slaapwolkie besef sy dat sy vandag nie een keer met Ivan gepraat het nie. Sy wonder vaag of dit ‘n goeie ding was om haar selfoonnommer vir Ben te gee.

Twee weke later voel Janie sy en Ben mekaar goed genoeg vir ‘n ontmoeting. Ben wil kom kuier vanuit Kaapstad en sy stem in. Sy het genoeg verlof en sal selfs ’n paar dae verlof kan vat. Janie voel verlief en kommerloos want Ben het die gawe om haar probleme na niks te laat lyk nie.

Ben behoort nou enige oomblik deur die deure te kom. Janie voel senuweeagtig en opgewonde. Gelukkig vlieg Ben tot op Wonderboomlughawe en hoef Janie nie Johannesburg toe te ry nie. Janie voel haar selfoon vibreer in haar handsak. Sy grawe dit uit terwyl sy die deure dophou. Dit is Ben. “Hallo Ben waar is jy ek staan naby die deure. Ek het ‘n denim en ‘n skouerlose blou toppie aan. Janie en Ben het al foto’s uitgeruil en sy is nie bekommer dat hy nie haar gesig sal herken nie.

“Janie? Hier is probleme. Ek is steeds in Kaapstad by die Lughawe maar is inhegtenis geneem. Janie sak grond toe, te lam om te staan.

“Renier, jy sal moet help,” val Janie hom in die rede toe Renier antwoord. “Hallo vreemdeling,” groet Renier stil. Janie weet hy voel gekwets oor sy hom deesdae vermy. Nie net by die danslesse nie, maar ook sy oproepe. “Skuus Renier, my lewe is ietwat dol,” kom die noodleuen maklik. “Ek het ’n probleem. Ek weet jy sal kan help” smeer sy hom verder heuning om die mond en verduidelik van Ben se dilemma.

“Die man was ’n opperste bedrieër Janie. Weet jy hoe lank word hy al gesoek vir bedrog in Gauteng? Hy het al heelwat vroue met hierdie slenters van hom gevang!” Renier gooi sy hande in die lug uit moedeloosheid omdat Janie hom nie wil glo nie.

Sy wil ook nie glo dat Benjamin eintlik Klaas Visser is nie. Wat veral by eensame weduwees aanlê en hul uit hul geld swendel. Danksy haar oproep aan Renier is Klaas nou agter tralies. Renier is nie verniet Pretoria se bekendste speurder nie en het dadelik geweet die man is ’n booswig. Janie is eintlik dikmond vir haarself. Hoe is dit moontlik dat sy amper weer in ’n wip gevang is? Gelukkig kon Renier en sy manne vir Klaas vastrek met haar hulp.

“Janie, luister vir Speurder Renier en gaan eenkeer saam my uit. Jy kan tot vir Mia en Anje saamvat sodat ek gelyktydig ’n ogie oor julle almal kan hou.” Renier kyk goedig na na haar ontnugterende dag. Renier se dag was ooglopend suksesvol.

Janie sug. Renier wat altyd lag al werk hy met die lelikste kant van mense..

“Dis reg Renier. Ek skuld jou vir die fiasko waaruit jy my vandag gered het. Dit kom my voor ek moet wegbly van mans en eerder fokus op hekelwerk want hier is nie meer goeie mans nie.”

“Nee Janie daar is nog goeie mans. Jy kies verkeerd. Laat my toe om te bewys dat jy beter verdien, asseblief?” Renier se groen oë ernstig.

As antwoord sit Janie haar hand in Renier s’n en glimlag. Sy kan niks belowe nie.

Dalk is dit tyd om ’n persoonlike lyfwag te kry wat haar met danspassies kan vermaak terwyl hy haar oppas. En sal die res vanself in plek val.

Advertisements

One thought on “Janie – Gebaseer op ‘n ware verhaal

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s